“Top & Tail”

Ek kan om die dood (…of die lewe dan…) nie verstaan waarom ‘n mens jou deur hierdie pyniging sit nie. Ek dink dis omdat ‘n mens nie nugter dink nie. Die spanning van die jaar, die oorwerktheid, die spitsverkeer op William Nicol, die sukkel om den-brode … dis al die poog-om-oorlewingselemente wat veroorsaak dat jy jou brein verloor. En dat jy begin hallusineer oor ‘n “vakansie-by-die-see”. Dis wat die Britte moet bedoel met “the silly season”, want inderdaad, as jy dink dat jy met jou pakkaas; jou suster met haar pakkaas; jou ander suster … jip, inderdaad: ook met haar pakkaas … almal van julle by jou ouers (met hulle pakkaas) se seehuis gaan afpak en ‘n wonderlike rustydjie gaan hê, dan is dit niks anders ‘n die uiterste beproewing vir enige familie nie. Dis ‘n suggestie van naïwiteit. Dis ‘n toets vir deursettingsvermoë. Dis ‘n nagmerrie by name “vakansie-by-die-see”.

Die ironie is dat ek buitengewoon goed met my familie klaarkom. Ons almal is lief vir mekaar (… hier en daar, ja laat ek bieg, met die uitsondering van ‘n swaer wat jou soms laat wonder of jou suster heeltemal “reg” was toe sy hom as ‘n lewensmaat gekies het. Maar nou ja…). Ons kuier selfs oor-en-weer by mekaar deur die kwartaal, synde ons almal darem naby aan mekaar bly in die binneland. Maar druk nou 4 gesinne in ‘n 3-slaapkamerhuis (die eetkamer, in hierdie tyd word ook ‘n slaapkamer, vir ingeval mense wonder … 4 gesinne … 3 slaapplekke … nee, ons is nog nie so lief vir mekaar dat ons beddens deel nie!!)

Druk nou 4 gesinne, met kinders wat wissel tussen 7 maande; 3 jaar en tieners in een huisie met 2 badkamers, dan begin die “vakansie-by-die-see” mos soos Chris Rea se toentertydse “Ride to hell” klink. En dan is die kersie-op-die-koek, die piece de resistance … druk 4 gesinne in ‘n vakansiehuisie waar daar die grootste waterbesparing in die geskiedenis is, dan sien jy hoe familieverhoudinge tot die uiterste getoets word.

Klim jy van die vliegtuig af, groet die baniere jou “This is a water restricted area”. En die hele familie spaar saam water. Ons 3-jarige niggietjie, nadat sy die soveelste keer in haar bababoetie se kleine badjie ingeprop word (kniegies letterlik verby haar ore) sug hardop: “top en tail ons alweer … wanneer kan my hele lyf weer skoon kom”. Almal van ons voel so! Ons is net nie so brutaal soos sy nie.

Elkeen kry ‘n halwe emmertjie water vir jou ablusie. Nie ‘n druppel water mag stort nie. Want met daardie selfde ingeseepte water word die toilette deur die dag gespoel.

En so hou ons, 20+ mense, saam vakansie in die seehuisie. Saans sukkel ons om te kyk watter kinders pas by watter gesin … dat die “regtes” darem net in die “regte” kamer slaap.

Ons noem dit ons jaarlikse vakansie. Ons see-vakanse. Volgende jaar doen ons dit weer!

Mense mag wonder hoekom? My verweer is dat ek gewoonlik langer kan kuier as die res. So, ek byt maar op my tande … soos almal. Ek “top en tail” … soos almal. Ek probeer so bedagsaam moontlik wees … soos almal. Maar as die susters en hulle krose en geliefde (en minder geliefde) wederhelftes in hulle motors klim, dan sug ek ‘n sug van verligting: die jirre leef… nou kan my vakansie-by-die-see begin.

Published in: on Desember 30, 2009 at 10:33 vm  Comments (2)  

The URI to TrackBack this entry is: https://middernag.wordpress.com/2009/12/30/top-tail/trackback/

RSS feed for comments on this post.

2 KommentaarLewer kommentaar

  1. Dit klink behoorlik asof Noag se Ark oop was! Ek kan indink watse gevoel (of sug) van verligting dit was toe jy eindelik kon vakansie hou het. Dis altyd lekker om almal bymekaar te wees maar daar is ook “stil” tye…waarna mens soms ‘n behoefte het.

  2. Skreeusnaaks!


Lewer kommentaar