Ek is ‘n vet vrou. (Ek is ander vroulike dinge ook … maar dis nie vir hierdie oomblik ter sake nie).

Vandag maak ek vrede met die feit dat ek ‘n vet vrou is. Met vet arms.

Sulke vet arms wat ‘n kleine dogtertjie die ander dag, sittend op my skoot, fassineer. Soos wat ek dekades gelede my salige ouma se vet arms rondgeswaai het, so sit sy my vette en rondswaai. Spontaan is die fassinering: “Tannie, hoe het dit gebeur?”

My arms is nie net ‘n bietjie vet nie. My arms swaai drillend! Ek dink dis my (vet) vlerke wat vashouplek op my rug verloor het, en toe met die jare onder my biseps kom hang het. My arms maak so “swoesj, swoesj” as ek (of klein dogtertjies) hulle rondswaai.

Dis dalk juis van te min rondswaai dat my arms so vet is. Het ek maar, toe ek ‘n jong meisie was, my arms meer rondgeswaai, hoef ek nie nou die klank van my swaaiende vlerke te beskryf nie. Dalk moes ek meer Jane Fonda se deurknop-oefening gedoen het… Maar feit is, my arms is bo-gemiddeld groot. My arms is wegsteeklik groot.

Of so sê die modetydskrifte (wat by geleentheid vir vet vrou ook klere-advies wil gee). “The plus size woman has got big arms … a cardigan is her best fashion item for this season”.

My vet arms moet weggesteek word. Vir die samelewing wat nie vet arms het nie? Dis tog nie ek wat nie my vet arms moet sien nie … ek sien hulle dan heel dag … as ek nou afkyk … oe, waar is julle? Ek weet tog hoe my vet arms lyk. Man-van-my-hart weet hoe my vet arms lyk. Hy sal my my truitjie wil laat uittrek. Hy sal my gereeld meer as net my truitjie wil laat uittrek. Hy’t nog nooit oor hulle (… word my arms nou “hulle”…) gekla nie. Dalk net as my arm per ongeluk hom tref wanneer ons ‘n paar ander oefeninge doen. Maar selfs ek sou dan gekla het!

So, hoekom moet ek my vet arms onder ‘n cardigan toemaak? Vet arms kry warm! Vet arms kry warmer as maer arms (… dink ek – nie dat ek sal weet nie, want ek het nie maer arms nie.) Maar as maer arms dan sonder ‘n cardigan kan loop, waarom moet ek, wat nóg warmer kry, met ‘n truitjie, of driekwart-moue, ‘n somersdag aandurf.

Dus: ek is ‘n vet vrou. Met vet arms. Sonder ‘n cardigan.

Published in: on Desember 22, 2009 at 9:47 vm  Comments (5)  

DIE SOVEELSTE KEER

Die soveelste keer:

van middernagtelik wakkerword;

… soek na ‘n sinvolle middernagtelike besighou;

… … nadink oor die waarde van middernagtelike nadenke.

Helaas, “middernag” is soms ‘n manier van leef; ‘n manier van dink; ‘n ander fokus as die natuurlike … die voorskriftelike … die vanselfsprekende.  Middernag is ‘n idee … ‘n proses … ‘n verwagting. 

Middernagtelike nadenke impliseer nie noodwendig tyd nie … “kronos”.  Dit impliseer soms kairos.

Middernag impliseer dat aweregse gedagtes/idees die norm is, omdat die verskoning van ‘n deurmekaargeslaapte psige van toepassing is.  “Not all is well after midnight”.

En so sal die lewe … en my lewe … en ander se lewens … en die gebrek aan lewe … dan bedink word OM MIDDERNAG!

Soos:  wat sou my seiljag se naam gewees het?  HELAAS

Wat staan op my grafsteen?  Kon seker soms anders!

My outobiografie se naam?  Niks is toe so (on)seker nie.

 

 

Published in: on Desember 22, 2009 at 1:52 vm  Comments (3)